|
Die Immerjong Roos
Nadat ons professor himself aan
die klas voorgestel het, moes ons elkeen ‘n nuwe persoon leer ken. ‘n Sagte
hand het aan my skouer gevat. Met die omdraaislag kyk ek af in die gesig van ‘n
klein ou vroutjie wat met haar hele wese vir my staan en glimlag.
“Hallo, Mnr Sjarmant”, se sy.
“Ek is Roos. Mag hierdie 87-jarige jou ‘n drukkie gee?”
Ek het laggend ingestem,
“natuurlik, ja!”, en sy’t my ‘n ordentlike drukkie gegee.
“Wat maak jy hier op kollege op
so ‘n jong, onskuldige ouderdom?” wou ek weet.
Glimlaggend antwoord sy: “Ek’s
hier om ‘n ryk man te ontmoet, met hom te trou, ‘n paar kinders te hê en dan af
te tree en die wêreld plat te reis.”
“Regtig?” wou ek weet.
Toe, meer ernstig, gaan sy voort.
“Nee, eintlik was dit nog altyd my droom om ‘n graad te verwerf en nou gaan ek
dit doen.”
Na afloop van die klas is ons
twee saam studentesentrum toe vir ‘n heerlike sjokolade melkskommel. Ons was
sommer dadelik vriende. Met verloop van tyd het Roos ‘n kampus-ikoon geword en
het orals vriende gemaak.
Aan die einde van die semester
het ons haar gevra om by ons rugby-banket te praat. Na sy voorgestel is, het sy
die podium bestyg. Sy’t skaars begin toe haar notas per ongeluk op die vloer
val. Verleë en ietwat gefrustreerd leun sy vorentoe en fluister in die
mikrofoon: “Ai, die senuwees darem! Ek sal nooit my aantekeninge nou in die
regte volgorde kry nie. Ek gaan julle maar net vertel wat ek weet.”
Roos het ‘n kuggie gegee en
begin…
“Ons hou nie op speel omdat ons
oud is nie, ons word oud omdat ons ophou speel. Die geheim van jonk wees, geluk
ervaar en sukses behaal, is om elke dag te lag – sommer te skaterlag. Dan moet
‘n mens ook kan droom. As jy ophou droom, gaan jy dood.
Daar’s ‘n wesentlike verskil
tussen oudword en grootword. As jy 19 is en vir ‘n hele jaar soos ‘n vrot vel
in die bed lê, gaan jy nog steeds 20 word. Ek is 87 en as ek vir ‘n jaar
nutteloos in die bed bly, gaan ek weliswaar 88 word. Enigiemand kan ouer word –
dit verg geen talent of vermoë nie. Die eintlik doel van die lewe is egter om
groot te word. Hoe? ‘n Mens word groot deur ‘n geleentheid in elke verandering
en uitdaging raak te sien en aan te gryp.
Leef dan voluit sodat jy nie
eendag met selfverwyt hoef terug te kyk nie. Ons, die Senior Burgers, is
gewoonlik nie spyt oor die dinge wat ons vermag het nie, maar ons bekla wel dit
wat agterweë gebly het.”
Aan die einde van die jaar het
Roos haar graad behaal. Toe, net een week na die gradeplegtigheid, is sy rustig
in haar slaap oorlede. Meer as 2,000 studente het haar begrafnis bygewoon.
Almal wou eer betoon aan die wonderlike vroutjie wat ons geleer het dat dit
nooit te laat is om alles te wees wat jy moontlik kan wees nie.
Definisie
van
‘n Senior Burger
Na aanleiding van die
voorafgaande, en in teenstelling daarmee, is die volgende artikel besonder
interessant. Dis geplaas deur ‘n wyse ou inwoner van die Wade-Lyn
Verpleeginrigting in Hurstville, Australië.
‘n Senior Burger is iemand wat
nog groei, wat nog leer, met potensiaal, en wie se lewe belofte inhou vir
skakeling met die toekoms.
So ‘n persoon jaag nog steeds
geluk, vreugde en plesier na, want dis tog mos almal se geboortereg.
Gewoonlik is ‘n Senior Burger
iemand wat respek en eer verdien, wat die wyshede van ‘n lang lewenservaring
opbou in ‘n erfenis vir die toekomstige geslagte.
Datums
om te onthou
¤
Die week vir Senior Burgers:
27 September tot 3 Oktober 2004
Tema: Senior Burgers maak wel ‘n verskil
¤
Internasionale Senior Burger Dag:
1 Oktober 2004
¤
Ouma en Oupadag:
3 Oktober 2004
Die Geskiedenis
van
Mobiele Etes
Die Voedingsprogram vir
Bejaardes dateer terug na die Tweede Wêreldoorlog (1939). Tydens die oorlog is
Groot Brittanje deur die Duitsers gebombardeer en baie mense is haweloos gelaat.
Die vroue in die vrywillige diens vir burgerlike verdediging het gereageer op
hierdie noodtoestand, deur maaltye aan hulle hulpbehoewende bure te verskaf.
Die kantiene het gou die
naam ‘Meals on Wheels’ (Mobiele Etes) gekry en die vrywillige helpers, onder wie
baie hoërskoolleerlinge, is as ‘Platter Angels’ (Skinkbordskatjies) gedoop.
Aflewering is so knap gedoen dat Senior Burgers dikwels kammastig ‘gekla’ het as
die kos ‘n paar minute laat was.
Baie mense wat baat gevind het by
die diens, is deur bure, hospitale en sosiale dienste aanbeveel. Behalwe vir
die haweloses, was die diens ook ‘n groot seën vir eensame bejaardes en mense
wat pas uit die hospitaal ontslaan is.
Hierdie program het klein begin –
daar is net sewe bejaardes bedien. Tans is dit egter ‘n wêreldwye organisasie
met honderde takke in die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State van Amerika,
Kanada, Australië en Suid-Afrika. Die diens voorsien tuis-aflewerings en
groepmaaltydprogramme aan miljoene bejaardes, ongeskiktes en mense in nood.
Die eerste Suid-Afrikaanse
tak van ‘Mobiele Etes’ is in 1964 in Oos-London geopen. Hierdie tak bedien nog
steeds die hele Oos-London en word tans deur Mev Dolly du Plessis bedryf. In
Junie vanjaar vier hulle hul 40ste bestaansjaar.
Dit betaal om te
adverteer
Ongeveer drie jaar gelede
het die Plumstead se Mobiele Etes-tak ‘n artikel in die plaaslike koerant geplaas,
waarin die dringende behoefte aan ‘n nuwe afleweringsvoertuig uitgelig is. Op
daardie tydstip was hul voertuie omtrent 30 jaar oud en glad nie meer betroubaar
of veilig nie.
Op die een of ander manier
het hierdie artikel oorsee by ‘n sekere Mnr Jones (nie sy regte naam nie) beland.
Sy hart is daardeur aangeraak omdat sy oorlede moeder deur die Mobiele
Etes-diens bygestaan is. Hy het besluit om iets aan die saak te doen.
Mnr Jones het met ‘n vriend
in Kaapstad gesels en saam het hulle ‘n aansienlike bedrag aan die Plumstead se
tak beskikbaar gestel. Met hierdie groot donasie is twee splinternuwe
afleweringsvoertuie, ‘n baie nodige koelkamer en ‘n skottelgoeddroër aangekoop.
Alhoewel die nuwe voertuie
vir aflewerings gebruik word, kom die oues nog daagliks baie handig te pas.
Die donateurs in hierdie
verhaal wil graag anoniem bly. Nogtans onderskryf hierdie geval die juistheid
van die gesegde ‘Dit betaal om te adverteer”.
Herstrukturering
Die Mobiele Etes-program in
Suid-Afrika is nog altyd onder die benaming ‘Mobiele Etes vir Bejaardes’ bedryf.
In die verlede was die naam gepas omdat slegs Senior Burgers by die diens gebaat
het.
In die onlangse verlede het
ons egter al hoe meer desperate noodkrete ontvang van brandarm gesinne, van
organisasies wat na kinders en haweloses omsien, van rampgeteisterde gebiede, en
van benadeelde mense van alle ouderdomsgroepe uit alle sosiale klasse.
Dis vir ons onmoontlik om
‘n hulpgeroep te ignoreer. Alhoewel ons elke aansoek eers deeglik vir
geldigheid ondersoek, raak die behoeftes steeds al hoe meer. Benewens die
bejaardes, voorsien ons nou ook maaltye aan hele gesinne, jong kinders, tieners
, sowel as aan volwassenes in nood.
Met die huidige situasie in
gedagte, en om nie ‘n wanindruk te skep nie, het die Mobiele Etes se
bestuurskomitee besluit om die wêreldwye naam van ‘Mobiele Etes vir Bejaardes’
na ‘Mobiele Etes Gemeenskapsdienste’ te verander.
Alhoewel ons
fondsinsamelingspogings op spesifieke behoeftes en ouderdomsgroepe konsentreer,
moet ons toegee dat ons organisasie nou meer raak beskryf kan word as ‘n
gemeenskapsdiens – ‘n diens wat omsien na die meer omvattende en veranderende
behoeftes van ons spartelende gemeenskap.
Ons sal
u mening oor hierdie aangeleentheid hoog op
prys stel.
Kersfees-etes Projek
Weereens wil ons almal
hartlik bedank vir jul gulhartige bydrae tot die jaarlikse Kers-etes vir ons
bejaardes. U vrygewigheid het ‘n wesentlike verskil gemaak.
Ons het nog nie die finale syfers
vir die 2003 feesseisoen ontvang nie, maar ons weet reeds dit gaan die 2002 syfers ver oorskry. In 2002 is 303 funksies landwyd gehou en meer as 23,000
Senior Burgers is rojaal getrakteer.
Almal het die geleentheid
terdee geniet. Vrywillige helpers het die heerlikste kos voorgesit, vrywillige
vermaaklikheidspersoonlikhede het gesorg vir ‘n vreugdevolle atmosfeer en ander
vrywilligers het mense aangery. In die meeste gevalle is plaaslike
hoogwaardigheidsbekleërs uitgenooi om die groep toe te spreek en sommer ook die
prêt en die ete saam te geniet.
Na afloop van die funksies
het ‘n ouer dame gesê: ‘Die enigste problem met Kersfees is dat dit net een
keer per jaar kom.’
Danksy u wonderlike
ondersteuning, kon meer as 23,000 Senior Burgers met ‘n lekker hart huistoe gaan
– wetende dat hulle geliefd is en dat hul bydrae tot die samelewing werklik hoog
op prys gestel word.
Soos gewoonlik is baie
vriendskappe gesmee. Dit is natuurlik van die grootste belang, want vriende is
‘n gewaarborgde raat vir eensaamheid. Eensaamheid is een van die mees algemene
beproewings waarmee bejaardes te kampe het.
Vanjaar sal ons oproep vir
die Kersfees-ete teen Oktober 12 in die pos wees. Begroot asseblief daarvoor en
vra ook u vriende, familie en kennisse om die keer ‘n ietsie by te dra.
Baie dankie vir u vriendelikheid
teenoor ‘n ‘ou vriend’.
Skets van ‘n
‘Skinkbordskat’
Mevrou Sue Fernandes is die
huidige bestuurderes van die Benoni Mobiele Etes-tak en Dienssentrum. Sy het
vir die eerste keer in Januarie 1979 met aflerwerings daar begin help. In
Oktober van dieselfde jaar het sy die leisels daar oorgeneem.
|
 |
|
Mev Sue
Fernandes |
In 1990 was Sue die
dryfkrag agter die stigting van die plaaslike Dienssentrum. Hierdie sentrum is
‘n ware seën vir die honderde ‘ou vriende’ in die gemeenskap. Onder Sue se
leiding voorsien die sentrum maaltye van Maandae tot Vrydae. Hulle bied ook
spesiale programme aan en lewer dienste vir die bejaardes. Die spesiale
programme sluit die volgende in:
Aërobiese klasse
Kindersang en ander
musiekaanbiedinge
Valentine- en Kersfees-etes
Gekombineerde Moeders- en
Vadersdagfunksies.
Op kliniekdag is ‘n
verpleegster besig om bloeddruk en suikervlaklesings te neem. Met ander
geleenthede kom ‘n vriendelike damein om moeë voete te dokter, toonnaels te
versorg en harde eelte te verwyder.
Die gemeenskap in en om
Benoni is wel bekend met die sentrum en gee vrywilliglik hulle ondersteuning –
hetsy finansieel of in hulpverlening. Deur die jare het daar ‘n uitstekende
verstandhouding ontstaan tussen Sue en verskeie organisasies, soos Woolworths,
die Rooikruis Kleuterskool en die plaaslike melkery. Hulle almal help wonderlik
met gereelde voedselskenkings. Lede van die Rotariërklub voorsien ook ‘n
belangrike diens deur die bejaardes vir uitstappies na die nabygeleë Flora Plaas
en Margaret Roberts Kruie Plaas te neem.
‘n Dienssentrum kan as ‘n
‘Klubhuis’ beskryf word, want dis waar Senior Burgers saamdrom en vriende maak.
Sover het drie pare, wat mekaar daar ontmoet het, besluit om te trou.
Danksy Sue se onvermoeide
pogings en toewyding, het die Benoni-tak groter, beter en meer suksesvol geword.
Sy beweer dat haar sukses in die bedryf van hierdie tak in ‘n groot mate
toegeskryf kan word aan die feit dat sy skuldmaak soos die pes vermy. Sy geniet
dit egter om inkope vir die Sentrum te doen en met mense te gesels wat sy
ontmoet. Op afleweringsdae beplan sy om ‘n bietjie met elke bejaarde te gesels.
Sy is daarvan oortuig dat ‘n geselsie net so nodig soos die kos is.
Daarbenewens is Sue die
persoon wat iemand in nood se medisyne sal gaan haal of ‘n bejaarde help om die
kosbare pensioen in die hande te kry.. Wanneer nodig, ry sy ook Senior Burgers
aan na die winkels, die dokters of die naaste kliniek.
Vir Sue is haar diens meer
as net ‘n betrekking. Niks is te moeilik vir haar om te hanteer nie. Ons bring
graag hulde aan hierdie vernuftige vrou wat die Benoni Dienssentrum al byna 25
jaar lank suksesvol bestuur. Sy is die toonbeeld van onbaatsugtigheid in haar
onvermoeide arbeid en strewe vir haar medemens se welstand.
Toe ek Sue vra hoe sy oor
haar werk voel, was die antwoord: ‘Ek is mal daaroor – dis eenvoudig ‘n deel
van my lewe.’ Almal stem saam. Sy’t haarself uitstekend van haar taak gekwyt.
Namens almal wat sover baat
gevind het by die Mobiele Etes en Dienssentrum in Benoni, sê ons baie duisend
dankies, Sue, en mag ons liewe Vader jou ryklik seen. Geen engel kan jou werk
as ‘Skinkbordskat’ oortref nie. Wel gedaan!
Hoe om mooi oud te word
Volgens ses van die mees
prominente gesondheidsorganisasies in die VSA, insluitende ‘The American Cancer
Society’ en ‘The American Heart Association’, is ‘n dieet wat ryk is aan
plantaardige kosse, een van die beste geskenke wat jy vir jouself kan gee.
Hierdie ses organisasies
het die ‘Unified Dietary Guidelines’ saamgestel om Amerikaners te help om ‘n
meer gesonde diet te volg. ‘n Verteenwoordiger van die groep beweer, die
belangrikste boodskap vir Amerikaners (en die wêreld) is ‘om die grootste
gedeelte van hul dieet van plantaardige kosse te kry.’
Daar is sewe riglyne vir goeie
gesondheid:
-
Eet ‘n verskeidenheid kosse
-
Kies die meeste kosse van
plantaardige bronne
-
Eet ten minste vyf vrugte- en
groenteporsies daagliks
-
Eet ten minste ses porsies
volgraan kosse elke dag
-
Verminder die inname van hoë
vet kosse, veral diereprodukte
-
Kies lae vet, lae cholesterol
kosse
-
Beperk die hoeveelheid suiker
in die dieet.
(Loma Linda Vegetarian
Nutrition & Health Letter, Vol 2.0)
Die daaglikse Lewensklas
In die rekenkunde-klaskamer
van u daaglikse lewe:
¤ Tel die
volgende bymekaar –
Gemoedsrus
Hartsvrede
Sielstevredenheid
¤ Trek die
volgende af –
Skinderpraatjies
Onverskilligheid
Selfsug
Murmurering
¤ Vermenigvuldig
dit alles met –
Getrouheid
Lieftalligheid
Geduld
Naasteliefde
¤ Deel die
volgende –
Lewensvreugde
Sorge
Vriendskap
Bereken die som van bogenoemde
volgens Prediker 12:13-14 – ‘Die hoofsaak (som) van alles wat gehoor is, is:
Vrees God en hou Sy gebooie, want dit geld vir alle mense. Want God sal elke
werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.’ Ken
jou lewensloop, want die som daarvan gaan die uiteinde daarvan bepaal.
|